Welkom by Inni-Woud Kleuterakademie

Welkom by
Inni-Woud Kleuterakademie

Hier gaan ons lag, speel, sing, dans, klim, klouter, oefen en leer.

Die skool met die grootste hart

By Inni-woud is elke maatjie spesiaal en ons wil elkeen spesiaal behandel. Met ons Christelike norms en waardes wil ons graag met vertroue en respek ‘n goeie kwaliteit opvoeding aan ons maatjies lewer.

Deur middel van positiewe kommunikasie kan ons almal trots wees om deel te wees van Inni-Woud Kleuterakademie.

Veilig & Liefdevol

‘n Geborge nessie vir jou kind.

Leer deur speel

Waar die buitelug ons klaskamer is.

Individuele Aandag

Want elke welpie is uniek.

Afrikaanse Grondslag

Leer en speel in ons moedertaal.

Christelike Waardes

Die Here is ons fokus.

Inni-Woud Personeel & Klasse

Babas 4+ maande

Veilige sorg vir ons kleinste maatjies. ‘n Liefdevolle nessie waar ons babas rustig kan ontdek, groei en mylpale bereik.

Juf. Elizmari & Doris

2 Jaar

Ontdek die wêreld op lang bene. Waar nuuskierige kleintjies leer om onafhanklik te word en die wêreld met groot oë en speelse pret te verken.

Juf. Annamarie & Chantel

3 Jaar

Woel, wip en speel-speel leer. ‘n Energieke klas gefokus op beweging, sosiale interaksie en die ontwikkeling van blink planne en sterk lyfies.

Juf. Heidi & Charmain

4 Jaar

Bou ’n stewige fondasie. Hier kweek ons selfvertroue en emosionele intelligensie deur kreatiewe projekte en slim probleemoplossing.

Juf. Gladice & Nikita

5 Jaar

Gereed om hul strepe te wys! Ons fokus op skoolgereedheid en groot drome om te verseker dat elke maatjie reg is vir die avontuur wat voorlê.

Juf. Elizma

Eienaar
Talitha

Die hart en visie agter ons avontuur. Sy sorg dat ons oerwoud ’n veilige, gelukkige plek is waar elke maatjie kan floreer en elke onderwyser die regte “toerusting” het.

Huishoudster
Sandra

Ons towerfee wat sorg dat die oerwoud silwerskoon en vars bly. Sy hou ’n wakende oog oor higiëne sodat ons welpies in ’n gesonde en netjiese omgewing kan speel.

Kok
Evelinah

Van ontbyt tot middagete en gesonde happies tussen-in, sorg sy dat ons heilsame kossies nuttig wat help dat ons lyfies mooi kan groei.

Instandhouding
David

Ons eie nutsman wat sorg dat elke klimraam, hekkie en speelding stewig en veilig is. Hy maak seker dat die oerwoud-paadjies altyd gereed is vir aksie.

Opsigter
Calvin

Ons flinke “buddy” wat ‘n wakende oog oor ons tuiste hou. Hy sorg dat ons hekke veilig is en dat slegs vriende van die trop ons spesiale paradys binnekom.

Gekwalifiseerde Gidse en ’n Veiligheidsnet

By ons oerwoud-skool gaan passie en kundigheid hand-aan-hand. Ons glo daaraan dat jou kind die heel beste leiding en beskerming verdien:

Professionele Onderwysers

Ons juffrouens is gekwalifiseer in vroeëkinderontwikkeling. Hulle is kundige gidse wat weet hoe om elke ouderdomsgroep se behoeftes te ondersteun.

Veiligheid Eerste

Wees gerus – alle personeel het noodhulpopleiding en ons het ook ‘n span opgelei in basiese brandbestryding vir enige noodgevalle.

’n Wetenskaplike Padkaart

Ons volg die nasionale ELDAS-kurrikulum (Early Learning Development Areas). Dit verseker dat ons op ses kerngebiede van ontwikkeling fokus, sodat jou kind ’n stewige, fondament vir hul skoolloopbaan bou.

Ons Leerpadkaart: ‘n Leer-deur-speel kurrikulum (Gebasseer op die 6 ELDAS pilare)

By ons gaan dit oor meer as net speel; ons bou ’n volledige fondament deur hierdie ses ontwikkelingsareas:

Welstand

Ons fokus op gesondheid, veiligheid en om sterk, fikse lyfies te bou sodat ons welpies vol energie kan wees.

Kommunikasie

Ons leer om te luister, te praat en stories te vertel sodat ons maatjies hulself met vrymoedigheid kan uitdruk.

Kreatiwiteit

Van verf en sing tot droom en bou – ons moedig elke kind aan om hul unieke verbeelding vrye teuels te gee.

Identiteit & Behoort

Ons help elke kind om te weet wie hulle is, selfvertroue te bou en te voel hulle is ’n kosbare deel van ons “trop”.

Wiskunde

Ons verken syfers, vorms, patrone en meetaktiwiteite op ’n prettige, praktiese manier in ons oerwoud-omgewing.

Wêreldbegrip

Ons ontdek die natuur, wetenskap en tegnologie om meer te leer oor die wonderlike wêreld waarin ons leef.

Buite Kurrikulêre Aktiwiteite

Ons bied geleentheid aan alle kleuters om deel te neem aan al die buite kurrikulêre aktiwiteite, niemand word uitgelaat nie.
Ons Olifant klas volg ander buite kurrikulêre aktiwiteite, lees meer hier.

Kiddisport

‘n Program waar kleuters die basiese vaardighede van ongeveer 10 sportsoorte aanleer, alles op ‘n vlak wat vir hulle gepas is. Ons speel rugby, sokker, netbal, selfs golf en nog meer.

Kinderkaperjolle

Ons dans en speel op maat van musiek, leer nuwe soorte danse aan, soos wals en volkspele en tussendeur is daar ook kans vir basiese gimnastiek vaardighede.

Trippe Trappe Tone

Koördinasie tussen die oog, hand en voet word hier ingeskerp met heerlike speletjies, terwyl ons sommer ook ons midlynkruising en ander groot motoriese vaardighede baasraak.

Pikanini Musiek

Musiekteorie, ritme, klankherkenning, luistervaardighede en speel van instrumente maak deel uit van die prettige musiekavontuur.